
Walk to Freedom
Adré Engelbrecht - 40 Dae Voorbereiding Vir Die Bruilofsfees
"Veertig dae voor 31 Maart 2018 besef ek dat daar nog net veertig dae oor is voor my dogter, Sarlene met my skoonseun Janus Fourie trou. Vroeg daardie oggend is ek na my binnekamer waar ek woord ontvang het wat ek met die tweetjies wat oor veertig dae trou, kon deel. Ek kry ook ‘n opdrag om ‘n 40 dae aftelling saam hulle te doen ter voorbereiding van die bruilofsfees.
Elke môre is ek vroeg na my binnekamer, waar ek vars woord ontvang het vir daardie dag. Ek besef in die tydperk van voorbereiding, dat dit is presies hoe Abba Vader ons as bruid vir Sy Seun Yahshua (Jesus), voorberei, deur Sy kosbare Ruach Hakodesh (Heilige Gees).
Die veertig dae reis was vir my regtig tot groot seën en ek het opgewonde elke oggend vol afwagting na my binnekamer gegaan om daardie dag se woord te ontvang, vars uit Sy troonkamer.
Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring van vars olie en vars manna elke oggend. Na die veertig dae het ek die veertig dagstukkies vir hulle in ‘n boek geplak, saam met fotos van hulleself van voor en tydens die troue en dit vir hulle as ‘n geskenk gegee.
Dit is hier waar die gedagte van ‘n boek ontstaan het.
40 dae van Voorbereiding vir die Bruilofsfees” Hierdie boek is veertig dagstukkies vir die paartjie wat oor 40 dae in die huwelik bevestig word, maar dis ook veertig dae van selfondersoek van die bruid van Yahshua ons Messias, vir die bruilofsfees van die Lam.
Op 14 Maart 2021, het my seun Gerhard met Elanca Goosen in die Robertson omgewing getrou, en kon ek ook met hulle die veertig dae van voorbereiding deel.
Ek het na hulle troue ernstig begin werk aan die boek, vir toekomstige paartjies wat in die huwelik wil tree en ook vir die voorbereiding van die bruid van Yahshua ons Messias.
Ek bid dat die boek vir elkeen wat dit lees, ‘n troonkamer ervaring sal wees, soos toe ek dit elke oggend vars uit Sy hart ontvang het." - Adre Engelbrecht
Maranatha! Kom, Yahshua, Kom!
Openbaring 19: 7 – 9. "Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy bruid het haarself gereed gemaak. En aan haar is gegee om beklee te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van ons Hemelse Vader."